Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 29 MAART 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons die heengaan van Colin McGee, ZS5YK, na ’n kort siekbed, aankondig. Colin was ’n jarelange lid van die Durban-amateurradioklub. Aan sy vrou, Hillary, familie en vriende betuig ons ons innige meegevoel.

(POUSE)

In die nuus vandag:

OKOSA STEL GROOT STYGINGS IN LISENSIEFOOIE VOOR

40 METER NOGNIE OOP NIE

SARL SE NASIONALE KONVENSIE-GASSPREKER SÊ SUID-AFRIKA HET INTERESSANTE SATELLIETVOORUITSIGTE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

Op 16 Maart het OKOSA ’n voorstel gepubliseer met verreikende voorstelle vir die struktuur van lisensiefooie. Die owerheid stel voor dat amateurradio-lisensiefooie na R120 per jaar styg. Om die administratiewe lading te verminder sal fooie vanaf volgende jaar vir 5 of 10 jaar vooruitbetaalbaar wees. Amateurradiolisensiefooie sal vir ’n minimum van 5 jaar gehef word. Radioamateurs mag kies om vir 10 jaar vooruit te betaal. Aangesien die owerheid se administratiewe kostes sal verminder, sal van hierdie besparings met lisensiehouers gedeel word. Indien die fooiveranderings finaal aanvaar word, sal ’n vyfjaarlisensie R500 en ’n 10-jaarlisensie R811 kos.

Die fooie vir bakens, roepseinveranderings, gas- en spesiale geleentheidslisensies, luisteraarslisensies, herhalerstasies insluitend radioskakels, digi-herhalers en bulletinborde, en eksperimentele stasies vir herleiding van weerinligting, sal almal verhoog word na die minimum van R120 per jaar.

OKOSA sê in die dokument dat alhoewel die spektrumfooie nie bedoel is om ekstra inkomste vir die nasionale tesourie te genereer nie, geld die algemene beginsel dat die aansoek- en jaarfooie in totaal ten minste die koste van spektrumbestuur en -monitering moet dek.

OKOSA het belanghebbendes genooi om hul standpunte oor die voorgestelde hersiene fooie teen die einde van April skriftelik voor te lê.

Die SARL-Raad het die voorgestelde fooi-hersiening en nuwe struktuur tydens sy strategiese indaba, wat die afgelope naweek by die NARS gehou is, bestudeer en sal sy besware voor die afsnydatum voorlê. Die Raad aanvaar dat die tyd ryp is om die huidige fooi van R27, wat al langer as ’n dekade onveranderd was, te hersien. Die voorgestelde verhoging na 'n minimum van R120 is egter na die Raad se mening buitensporig; die vooruitbetaling van vyf jaar behoort ook opsioneel te wees en nie verpligtend nie. Die Raad glo dat die huidige voorstel deur OKOSA teenproduktief is vir die verdere ontwikkeling van amateurradio en dat veral die jeug en senior-burgers benadeel sal word.

Besonderhede van die voorstelle kan in Staatskoerant nommer 32 029 gevind word. Dit is beskikbaar van www.icasa.org.za in die “Engineering”-afdeling.

Radioamateurs word genooi om hul mening, oor wat ’n redelike styging hoort te wees, te lug in ’n e-pos aan armi@sarl.org.za. Volgende Sondag is die Presidentsnet weer op die lug en is daar dan ‘n ander geleentheid vir lede om hulle menings oor hierdie aangeleentheid te lug.


Suid-Afrikaanse radioamateurs het nog nie toegang tot die spektrum 7 100-7 200 kHz nie en enige gebruik van hierdie deel van 40 m is ’n oortreding van die regulasies wat tot ’n boete en selfs kansellasie van die lisensie kan lei.

OKOSA se standpunt is dat die veranderings aan die 7 MHz-toedeling deel is van die oorhoofse hersiening van die tabel van frekwensie-toedelings wat nog nie afgehandel is nie. Die hersiening is die gevolg van voorstelle deur die SARL meer as ’n jaar gelede. Die voorgestelde regulasies word Dinsdag aan die OKOSA-Raadsvergadering voorgelê. Die SARL is gereeld in kontak met OKOSA en sal terugvoering gee oor die vordering met die aangeleentheid.


Sias Mostert van Sunspace sê dat Suid Afrika interessante vooruitsigte rakende satelliete het. Hy is gasspreker tydens die jaarlikse dinee by die Nasionale Konvensie in Kaapstad. Die konvensie vind plaas vanaf 24 tot 26 April en sluit die algemene jaarvergadering en ’n aantal opwindende sosiale geleenthede in. Volledige besonderhede en registrasievorms is nou op www.sarl.org.za beskikbaar. Bespreek asseblief vroegtydig om die organiseerders se finale reëlings te vergemaklik. Die 2009 SARL Nasionale Konvensie word aangebied deur drie klubs in die area, die Kaapse Amateurradiosentrum, die Oakdale-amateurradioklub en die Boland-amateurradioklub.

Lede van klubs in die Weskaap word spesiaal aangemoedig opm die verrigtinge by te woon ten einde die Nasionale Konvensie ‘n groot sukse te maak.


KOMPETISIENUUS

Die eerste been van die SARL se 80 m-QSO-party vind op Donderdagaand 2 April plaas. Dit duur van 19:00 tot 22:00 SAT. Dit is 'n kompetisie vir spraak alleen in die bandsegmente 3 600 tot 3 700 en 3 650 tot 3 800 kHz. Roepseine, 'n RS-seinverslag en 'n reeksnommer wat by 001 begin, word uitgeruil. Kontakte met Suid-Afrikaanse stasies tel 10 punte elk en kontakte buite Suid-Afrika tel 15 punte elk.

Log- en opsommingstate moet gestuur word aan Die Durban-amateurradioklub, Brownleeplek 17, Bluff, Durban, 4052, of per e-pos aan zs5lp@sharksden.co.za. Die sluitingsdatum vir insending is 17 April 2009.


Die Herfs-QRP-naelloop is ’n pretaktiwiteit om QRP-kontakte tussen amateurs in Suider Afrika te bevorder. Dit sal plaasvind op Sondag 19 April vanaf 14:00 tot 16:00 SAT.

KLUBNUUS

Die Kemptonparkse Amateurradio- Tegniese Vereniging se AJV is op 14 Maart 2008 gehou. Die nuwe komitee is:

Voorsitter: Clive Reeks, ZS6BT;
Visevoorsitter: Viv Dold, ZS6VD;
Sekretaris: Stephen Stuttard, ZR6MRC;
Tesourier: Paul Cornelius, ZS6PJC;
Nico Janse Van Rensburg ZR6Ql;
Donald Dold, ZR6AWO;
Johan Nortje, ZU6JJN.


Die ZS WAGS-toekenning wat deur die Sandtonklub geborg word, is goed op dreef vir 2009.

Shaun, ZS5WX, het ’n Aktiveerderstoekenning ontvang vir sy aktiwiteit in KG63. ZS WAGS-jagterstoekennings, almal vir 50 ruitblokke, is toegeken aan Jan, ZS4JAN, op 40 en 80 meter en Pierre, ZS6BB, op gemengde bande. Ander toekennings is nog in die pyplyn.

’n Nuwe e-poslys is geskep om besonderhede te versprei van enige aktiwiteite van belang vir ZS WAGS-ruitjiejagters. Om op die poslys te kom, stuur eenvoudig ’n blanko e-pos aan zswags-subscribe@googlegroups.com, en reageer dan op die antwoord wat u sal ontvang.


Die Avontuur Radioklub, ZS1ARC, beplan tans hul volgende avontuur. Hulle gaan vanaf Donderdag 9 tot Sondag 12 April 2009 na Verneukpan en gebruik daar die roepsein ZS3ARC. Hulle sal aktief wees op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter, hoofsaaklik op ESB, met ’n moontlikheid van PSK en SSTV.

Die ZS3ARC-span se doelwit is vanjaar om ’n WAZS op 40 meter SSB te verwerf. Indien u vir ZS3ARC op enige van die vyf bande kontak sal hulle u met die VERNEUKPAN-5-toekenning beloon. Daar sal vir elke kontak ’n QSL-kaart uitgereik word.


Luister nou wat Hannes Coetzee, ZS6BZP, oor die verwagte voortplantingstoestande te sê het. Hy sê dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die son se onvermoë om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van gestoorde sonvlektellings gebruik maak en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette begin nou om optimistiese waardes te voorspel.

Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionosfeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX met moontlike 15 m-openinge na Indië vanaf 13:00 SAT gevolg deur 20 m om 16:00. ZS6BZP het ook berig ontvang dat 17 m baie goeie resultate gedurende die middag na die Ooste toe oplewer. Kontakte met Nieu-Seeland gaan baie uitdagend wees. Om 08:00 is daar moontlike swak 20 m openinge na Australië. Kontakte met Peru is onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik vanaf 14:00 tot 18:00 op 15 m gewerk word en daarna op 20 m. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15 m-openinge na Europa wat deur 20 m-openinge om 18:00 gevolg gaan word.

Kort, flou kontakte met die VSA se Ooskus is om 20:00 op 15 m moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan bedags op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan slaap, alhoewel goeie resultate nog rondom middagete verkry kan word.

Saans is 80 m die beste keuse. SARL se komende 80 m-wedstryd behoort goeie kontakte op te lewer.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

2 April – Eerste been van die 80 m-QSO-party;
5 April – Presidentsnet;
9 – 12 April – ZS3ARC aktief van Verneukpan;
18 April – Wêreldamateurradiodag;
24-26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003